Voete Vind !!
Die Aanpassing
Eerste paar dae is maar deurmekaar en ek moet gewoond raak om nie die “shots te Call” nie.
Die span is almal baie bly dat ek by hulle aangesluit het en ek word op die hande gedra.
Ek blaai deur my goed met die afpak slag en merk dat my Bestuurderslisensie oor 2 weke verval … Nou ja gelukkig ken “ons mense in al die regte plekke” in Wellington en dit word gou uitsorteer.
Vriend Maruis (is n bedonnerde 64 jaar oud maar steeds baasbakker en chef – 72 tert korse sien hulle gat in een dag en volgende oggend staan 32 meester melkterte reg vir die bazaar – skenking van Bakkies en Ronel) is veral bly dat ek daar is en die werk word so tussen ons 4 verdeel. Bakkies is “baas”..en help waar dit nodig is en skryf tjeks .. (die goue gans) ..Ronel is “Housekeeping”....(niemand kruis haar pad nie !!!) Marius kombuis / chef en (Mrs Doubtfire….) ek Bemarking en admin !! (nog nie `n naam nie…net die ou met al die nuwe idees wat die besigheid uit die potlood en uitveër jare na internet bemarking, e-posse en webwerwe moet oor trek…. En hulle is BC !!!!)
Binne die eerste week ry ek saam stad toe vir besigheid en om te sien waar alles op grootmaat aangekoopword, handoeke by Glodina fabriek, ingelegde vrugte by Langeberg …groot blikke by die inmaak fabriek ens ens…. (geld rol maar oor die langtermyn …darem in die regte rigting) . Die dag is egter so lekker dat die prioriteit verander (nes in die Kaap kan gebeur - nie vandag nie dan maar môre ! ) en ons raak aan die kuier, stap langs die strand.. drink koffie en koop `n paar klere. Dit voel kompleet of ek weer met vakanie is !!
Af naweek !!
Die naweek lê voor en die huis is vol. Marius is afdiens want hy moet `n begrafnis gaan bywoon op St. Helena baai. Bakkies huts my aan om saam te gaan en skielik het ek ook die naweek af. " gaan bly in die strandhuis op Yzerfontein man... dit gaan lekker weer wees en dis hoekom die plek daar is ! Iemand moet darem so nou en dan die tuindiens opcheck !!! . Ons sal regkom, die ouens bly net – geen etes nie !
(klink vir my baie na ‘n verskuilde agenda … iewers is daar n naweek wat hy wil uitruil ..! )
Ons ry Saterdagoggend 8hoo. Ontbyt op Malmesbuggry en ja hier sit ek nou voor die kerk en wag.....St Helena baai.. die see is soos ‘n dam.. byna geen branders nie … windstil... hoop die wind bly lê vanmiddag ook... gaan lekker op die strand stap en vanaand bietjie braai. Die kerk- klok begin lui en kondig skynbaar die finale heengaan van die broer aan….. snaakse geluid…ek soek die toring want dit klink of die ou wat die luiwerk doen dalk doof geraak het… iewers begin `n polisie sirene loei… ek kyk rond ..is hy oppad hierna toe want iets is fout… die klok lui steeds !!!! Die begrafnisgangers begin soos wors uit n stopper uit die warm kerkgebou peul … die polisie jaag verby in die rigting van die binneland…so tussen die gelui deur probeer die mense wat in die koelte onder die 3 boompies voor die kerk staan met mekaar gesels maar hand-bak-hou werk nie juis nie. Toe die lykswa agter die kerk uit ry, hou die klok op lui.. Mense maak vir hul karre en woerts warts is dit oor.. Die ou word blykbaar veras !!
Herinner my aan die Tolla- storie oor die tannie wat so bedonderd was deur haar lewe en toe sy die dag begrawe word,, steek daar ‘n lelike storm op.. Net toe die kis gesak het slaan die weer met een moerse slag…dat almal koes en opkyk na die hemel….die nuwe wewenaar stamp so met sy elmboog aan die hartseer kind langs hom en sê ….”boet klink my jou ma het sopas daar anderkant aangekom !!!
Next stop…Yzerfontein !!
Die huis is beskeie maar gemaklik en smaakvol ingerig. Ons stap op die strand en kuier by van Marius se familie wat ook daar woon.. oulike mense ... in die 80 s:-) toe ons eiendelik by die huis kom is dit `n gesoek na goed om vuur te maak en die braairoosters ens. .. toe die vuur eindelik brand gryp ons elkeen `n bottel wyn en dis nie lank nie of dit gaan jolig. .. Ek kuier baie lekker saam met `n ou vriend!
Volgende dag.... dis weer `n lieflike dag perfek vir die strand en stap na ontbyt see toe. Die tyd loop vinnig en daar is baie mense op die strand. Ek gaan sit by die water in die son en tan ... ver oor die see kan mens Tafelberg se buitelyn uitmaak. Wonder wat doen die mense op Thwane en Parys…vang ek my gedagtes uit! Hier gaan ek weer vriende maak!
`n Dag in Darling.
So teen 9 Saterdagoggend ry ons na Darling om die vleis wat vir die gastehuis bestel is op te laai. Die gedagte is om Darling van hoek tot kant deur te stap terwyl mens daar is.
Ons maak seker van die bestelling en vir die eerste keer verstaan ek hoekom die vleis hier gekoop word. Dis die netjieste en skoonste slaghuis wat ek in my loopbaan as gesondheidsinspekteur nog gesien het. Die vleis is top gehalte en baie netjies verpak.. die verskeidenheid is onweerstaanbaar en bykans die hele Weskus koop hul vleis hier !!!! Die manne kan !
Halfpad oor die straat oppad na ‘n winkel “Second Time Arround” toet n klein regop Mercedesie oordadig en `n vuis vlieg by die venster uit…… Die vrou sit die hele A160 vol en haar oë is groot en haar wange bloedrooi. Sy stop half in die straat en spring uit...Marius skree sy ..is dit jy ! Hy is netso verbaas soos ek. My magtig Maria! Hoe gaan dit.. hulle het saam skoolgehou en dis binne oomblikke duidelik dat hierdie vrou `n storie werd is... daar word oor baie dinge van die verlede gesels en toe vra sy .. nou wat maak julle hier? Ons verduidelik en sy begin raad gee! Julle MOET net by die " marmelade kat" iets gaan drink.. of eet sommer `n lekker stuk appeltert met room .. sy knyp haar oë toe en dis kompleet of sy die tert in haar gedagte proe !! ..dis my resep sê sy trots. Wat hou Darling aan die gang? Vra ek.. sy dink `n rukkie en sê toe...skinner en drank! …. wat doen mens dan nou op n plek soos die ? Almal weet almal se sake en daarvan gepraat .. dominee se vrou is so prim en propper…….sy kyk skielik skuldig rond…..die lekker en stout is duidelik op haar gesig en in haar lag hoorbaar !!! Ja nê ou Jaap ..die voorsit ouderling, vertel hy wou nou die dag vir ds iets gaan meedeel oor Sarie se geheuverlies toe kom hy op die gedoente af .. haar mond water en haar oë is nou bot toe .. hierdie storie is groooot !!!!!! Toe hy by die voordeur, soos dit `n goeie ouderling betaam, klop en niemand maak oop nie, loop hy om die hoek na die duiwehok en hoor mense in die kombuis. Hy maak die sifdeur oop... en jou waarlik, in die gang lê ds. en mev. neffens mekaar en hy is net betyds om mev. Ds. te hoor sê "ooho Herman dis heerlik. !!" .. nou is daar nie keer aan die lag nie.. Maria skater en haar groot lyf wip op en af terwyl sy haar hande oor haar gesig hou !
Met lagtrane in haar oë sê sy ... Haai laat ek wikkel, die ou by die meule sê hy mag nie aan my `n sak koring verkoop nie.. toe sê ek hy mag dan seker vir my maar een gee….hy sê toe sy kan maar `n eie sakkie bring... …sy maak die kattebak oop en wys na die gestreepte bagasie sak! !! .. maar kom maak `n draai Sondag oppad verby terug Wellington toe .. lekker koffiekie is net wat mens nodig het .... maar kom so laat middag se kant want sien ek moet my rus inkry op `n Sondag…….. dis baie werk om hierdie lyf in en uit Sondag klere te kry !!!!;
So begin ons staptog deur Darling. Die strate is redelik leeg en oral waar mens in `n winkeltjie instap storm iemand jou met die hoop dat jy iets gaan koop. Die mense is vriendelik en gesels onophoudelik... die stappie gaan langer vat as wat ons dink! Ek stap deur die ou meubels en gewone goeters vir toeriste opsoek na iets wat eie is aan die area en sy mense ... buite begin dit liggies reën... stap sommer hierdeur .. sê die dame met groot oorbelle en plastiek skoene.. die winkeltjies is almal aanmekaar met `n deur tussenin... dis ons " Mall " sê sy en lag uit haar maag! .. baie bakkies en kakkies .. nes Parys ..dink ek. Net so duur ook. .. voor die volgende winkeltjie staan `n beeld van `n gemmer kat - "die marmelade kat" staan op die venster. Die deur het `n klokkie aan `n ketting en kondig ons aankoms aan. Die mense binne kyk op en groet die vreemdelinge vriendelik sonder om messe vurke of teekoppies neer te sit. Die spyskaart het als op wat mens verwag, van n " allegaarkie" tot wortelkoek. Appeltert met room en filter koffie bestel ons... die ou agter my ruil 2 bottels JB Whiskey vir `n ou waterpomp -enjin oor sy selfoon. Saaklik word die transaksie beklink en hy vra sy rekening.
Ons bestelling daag op en die jong Zimbabwe man is duidelik trots op sy gevoude servette tussen die vurk se tanne.....Sonder twyfel die beste appeltert en die koffie laat merke op jou tande.. nes mens verwag . Ons volgende stop is Evita se peron..dit bly maar net `n absolute skouspel van fotos, briewe en sertifikate van regerings amptenare en Landsleiers...skilderye en " whites only" borde saan met fotos van Dr. Verwoerd en al die Groot Generaals van `n vergete era van appartheid. Mens staan ure in die toilet en lees onbekombaar ou tydskrifte, spotprente van Zapiro en koerantberigte.. Die dag is gou verby en ons braai wors langs die strand terwyl die son speels oor die branders blink. Sondagoggend se lang stap langs die strand tussen mense met `n verskeidenheid van spelende honde is verfrissend en maak my goed voel... tog begin die verlange en behoefte om dit met iemand spesiaal te deel stadig in my gemoed inkruip. .. en ek stap vinniger.. steeds pas my voete in die kaalvoetspore van die mens wat voor my hier gestap het..... wonder hoekom stap hy alleen.. proe hy ook die sout op die wind .. waaraan dink hy.. wat voel hy .. Middagete is alles wat die naweek oorgebly het en voor ons heeltemal lui raak ruil ons Yzerfontein se strand vir Darling se Maria! Hoe lyk haar blyplek? ????;
Kerkstraat, die deel agter die kerk, in meeste ou dorpies staan die kerk in die middel van `n woongebied met `n kerkstraat soos twee vlerke weerskante. Nes sy verduidelik het, staan die huis hoog met `n hele paar trappe tot by die stoep en dateer uit die era van hout vensters en deure met koper deurknoppe. Maria wag op die stoep in dieselfde styl rok as gister. (sy sit 5 verskillende stukke lap op mekaar met die patroon bo op dan sny sy die hele lot gelyk en werk elke soort aanmekaar ..5 rokke sommer netso) wie worry nou oor `n styl. Dit dra gemaklik en lyk tog te ougat sê sy en staan soos `n winkelpop. Kom binne .. die oomblik waarvoor ek gewag het. !!! Mooi ou meubels ..die dele wat mens kan sien .. soos ons instap sien ek die een deurmekaar kamer op die ander.. ooral staan "on voltooide projekte" rond.. hekel werk.. breiwerk.. plakwerk..kralewerk, ens.. die prente teen die mure het gebuigde glas oor en daar is geen patroon of groepering nie.. net opgehang. Ons sit in die sitkamer en ek blaai deur die goeters op die koffietafel.. 27 in totaal ..geen plek vir n skinkbord of koppie nie..langs my onder die lamp lê ` n groep boksies oor mekaar. Op een se deksel is geskryf en dit vang my oog .. baie netjiese skrif -Toutjies - tekort om te gebruik. !!!! ;
Buite brand `n vuur en die kombuistafel lê toe onder die vleis.. “Ons braai vir die week.”se sy … Eerste dag eet ons dit warm, tweede dag kamertemperatuur en derde dag koud uit die yskas. So het ons dan 3 verskillende vleise vir etes !!!! Die wynglase is stowwerig maar die wyn koud ..... ek wil nie eers weet wat in al die bakkies en houers in die yskas is nie! !! Ons lag en gesels en ou Maria wil nie hê ons moet loop nie. Wat maak jy met die koring ..vra ek.. ek maak koringsakkies van die oorskiet rokmateriaal.. jy weet .. daai wat mens in die mikrowave sit en as dit warm is, op die pyne op jou lyf of sommer net by jou voete in die winter.. nog wyn ? Moeder natuur jaag my en ek loop oor die stoep na die klein kamertjie...
Nes ek verwag het is die hout sitplek netjies toe gehekel en die toiletpapier dra `n pragtige rokkie van dieselfde wol… gelukkig is dit nie nr. 2 nie en ek gril aan die gedagte om daarop te sit..kan sien hier`s nie manne in die huis nie … die deksel bly nie bo nie en mens moet maar jou knieg gebruik !! korrel ,,,,oppas die deksel ….korrel … nes jy voel dit gaan nou gebeur… val die deksel en jy knyp af !! …mens moet maar sit ..lyk dit vir my. Die groot erde- koos herriner my aan my asma dae toe ma my met Vicks en warm water onder `n handoek gestoom het !! Agter die deur hang die kerk-almanak, met behalwe die jaar program, ook die verjaarsdae op... dieselfde netjiese handskrif as op die boksie se deksel.....
Die troue in die fish & chips winkel.
Sommer so oor die telefoon laat een middag kom die uitnodiging. Julle word genooi na Jan en Kobus se troue op 1 April 2013. Na 24 jaar het hulle op hierdie stap besluit weens " sekurteits redes" geen sprake dus van `n ongewensde swangerskap nie! !! Waar en hoelaat ..15h00 by Pescali.. Dress code... nes jy voel! Nouja die ingang na PESCALI is deur `n Genuine Vis en Tjips winkel met `n deurloop na die tuin agter. Als ruik na olie en die houtbanke in die frontshop sit vol kliente wat vir hulle bestellings wag . So stap al 60 gaste sommiges opgedress ander net gewoon, deur die winkel na agter. " maar die manne is mooi toegedraai ".. sê die tannie met die rooi kopdoek toe ek en Marius verby stap...
Die seremonie begin stiptelik 3 uur en omdat dit buite reën sit almal “ingesqueez” in die binnekant langs die kombuis.. twee baie mooi ruikers met pink Stargazer lelies vorm `n soort van `n verhogie op die teenoorgestelde kant van die kroeg. Die man wat die diens moet lei, val sommer met die deur in die huis. Hy gaan Kor . 13 aan ons verduidelik. (weet mense dan nie van al die ander paslike dele in die Groot boek nie? ) Baie senuagtig sukkel hy deur die aanloop. Nie lank nie of mense se koppe begin stadig na links draai. Party loer oor hul bril.....;sonder om die kop te draai.... links… die ouens met die “Very fokol” brille soek na ‘n plek om te “point” Ander kyk sonder seremonie.... links...toe kyk ek ook maar……..
Teen die muur hang `n wynlys met volledige beskrywings van elke wyn en hoe hy veronderstel is om te proe! !! Langsaan hang `n bord met verskeie wynmakers se “claim to fame” daarop, baie meer interressante inligting as hierdie ou se Kor. 13 !!! Dit raak warm en ons skuif rond. Kor. 13.... kor 13... hanahanahana fishpaste ! wat probeer die man sê wat ons nie al weet nie! ... eindelik..... hier kom die “punchline” .. hy kyk verlig op, glimlag en met die woorde op sy tong.. is daar `n oorverdowende geraas vanuit die kombuis ...die artappelskiller kon ook nie meer wag nie en trek los met n hele sak aartappels in sy maag! !!.... afterall daar wag mense vir slap chips voor in die winkel. Die ou laat hom nie afsit nie en begin harder praat... die ou voor my bak sy hand agter sy oor ..... mens sit darem nou lank en wag vir ....... grrrrr tjommel kompeteer die skiller met Kor. 13 ....baie dankie! sê iemand agter en gaste begin opstaan ... ek dink nie Kor. 13 is klaar nie! !!. Niemand gee meer om nie en kelners met sjampanje glasie storm agter die kroegie uit. Die bruidspaar staan op en druk ringe in mekaar se vingers... you may kiss the bride moet nou volg ..... niks gebeur nie en niemand se iets nie.... wie is die bruid ? Die twee manne staar na mekaar... ;
Die artappelskiller het intussen sy laaste stuiptrekkings gegee en die fotograaf wakker gemaak. Sy staan soos `n wafferse groot wildjagter ... aangelê op die paartjie en reg om die sneller te trek....niks.. kinders by dosyne kinders by dosyne begin n ou heel agter langs die kroeg sing! !!! Vir n oomblik val almal uit gewoonte in en sing saam...maar die bruidspaar kyk die song dood en soen mekaar. Een van hulle bedank die mense dat hulle daar is nooi om saam te kuier........ prawns..vis sosaties..vis koekies..frikkadelle.. mini hamburgers.. en als wat jy kan aan dink .. word keurig voorgesit en die wyn vloei..... die staan paartie begin karakter kry en sommige van die gaste ook....die weer trek verby en van die ouens trek buite toe om te gaan rook.. die stoele word eenkant toe geskuif en die paartjie open die dansvloer met `n stadige wals..... hulle is al oor die 50 jr...1,2,3.....1,2,3......niemand dans saam nie.. ok die baan is oop en die wyn ook... ;
Comments
Post a Comment