Shosholoza Meyl (Party noem dit die "Shoza Clora Meyl")
Ref vir trein 9032070. 4c Kompartement.
08h00 - Hier is ek nou op die stasie danksy
bakkies met sy bus, stywe been en al. Die ontvangs is baie 5 ster en ek sak in
die diep bank weg. Een vir een kom die passasiers in groepe aan. Grys koppe,
blou koppe met so hier en daar `n perse. Buitelandse toeriste almal jonger.
Derde groep was langer in die son as ons en praat Porra. Skielik is die
sitkamer vol en ons kry tee/koffie/sap. Giles, pragtige Ausie jongman kom sit
langs my en ons gesels oor al die gewone ditjies en datjies. Ek sien 2 ouens in
"koöperasie " hemde en kakie broeke wat heel uitstaan by die res van
die groep – hier is ‘n storie. Ek gaan bêre my glas en staan nader om met hulle
te praat. Sap ? vra die kelner, nee!
koffie blaf die oom met die snor.
"Moerkoffie" las ek by. Hulle glimlag . Het julle al voorheen met die
trein gery? Nee ons is so half verplig want Theo is te bang om te vlieg en die voertuig moet hier bly
vir die famielie! - hulle boer anderkant Pretoria en het `n krisis op die
plaas. Die familie hou verder vakansie en hulle gaan gou die problempie
uitsort. (duur krisis dink ek )
Aankondiging "
die trein het n meganiese problem en sal eers oor `n uur reg wees. Die oom vryf
oor sy snor en sê " ek`t jou gesê ons moet met die bakkie ry." Giles kom staan by ons en die gesprek gaan in
n heel ander rigting. Die Engels van van die 2 ooms is net so snaaks soos Giles
se aksent. Kort-kort vrae die oom “waarvan praat die man?”
In vergelyking met die vorige dae, is dit vandag nog
warmer. Die lounge se lugreëling is egter yskoud en ek sien uit na die
luuksheid van die trein. Tien uur is ons
op en word genooi na die sitkamer vir welkom drankies, neute en biltong.
Ons word
plegtig aan die crew voorgestel en nes `n warmnul is, kleur Anthony die verwelkoming so in dat hy `n
standing ovasion kry. Kort voor my by `n tafeltjie sit n statige bruin tannie
van 80 + sy spring op en word 40 jaar jonger toe sy wegtrek met “nkosi soek `n
lêplek in Afrika. So tussen die --- ja, reggeraai, die afwesige tande deur gooi
sy die deel wat die rugbyspelers so mee sukkel met `n vreemde fluitgeluid na
elke klinker, die hele groep spring in en gou is daar `n koor met n klein
outjie met goeters in sy ore wat `n “beatbox” namaak. Wag dink ek, die Afrikaanse
stuk gaan sports wees. Die antie lig haar arm en vuis in die lug en met
"uit die flou van onse yimmel, eit die dieptes van onse sjiee" sing
sy die koor in sy moer in. Die ewige gebergtes gee antwood en ek sluk `n hele
glas sjampanje in. Stywe nekke kyk rond en neuse skuif tussen oogkaste in maar
die tannie het geen keer nie. Sy raak wel stil by die Engelse deel en gee oor
aan `n span jonges wat duidelik die woorde ken. Groot handeklap en almal
verdwyn kompartemente toe want middag ete is eers 1 uur. Die kamertjie is
kompak maar luuks, tot `n telefoon met al die lekker nommers " room
service, lounge en bar" Bederf met die lugreëling by aankoms, sit ek dit
dadelik aan.... miskien vat die ding `n tyd om op dreef te kom. 10 minute later
hoor ek mense kla oor die lugreëling wat nie werk nie. Ek kyk gou op my foon na
die weervoorspelling, 43 grade in die Karoo!
Ongeduld
Die manne raak dors, en warm. “Dis die mense van Joburg
se skuld meneegrg, hulle het die ding so aan ons oergelaat”, kla die kroegman
toe hy vir die 3de keer moes gaan ys soek. Hulle sal dit uitsort op Beaufort-wes
vanmiddag . Die donker derde van die passasiers kom die kroeg binne hulle het
almal hulle wit "complimentary" pantoffels aan en wil weet wanneer
daar ge-eet gaan word. Die middagete is baie lekker en dis heerlik koel in die
eetwa. Ek en die Ausie gesels lekker maar dis duidelik hy het slaap nodig - het
glo eers 4 uur in die bed gekom. In die sitkamer speel mense skrabble en kaart.
Die hitte raak erger en die ysmasjien kry swaar. Ongeduldigheid kruip by die
deur in teen 3 uur, die personeel probeer hulle bes en maak al die vensters in
die gange oop. Aandete is 7 uur en almal storm vir die eerste sitting - dis
koel daar. Ek en Giles kry `n tafel en bestel `n glas wyn. Beesstertsop is
moeilik om te verduidelik en ek sê sommer dis “beefsoup”. Die stukkie vis laat
my aan die koshuis dink maar dis perfek gaargemaak en ons ry Beaufort-wes
stasie in. Die trein stop en almal word gevra om vir tien minute op die perron
te gaan staan want hulle gaan gou die krag afsit en dan is daar geen ventilasie
nie - wat van die res van ons ete, wonder ek. Buite staan 4 tafels met baie
bottels water, bier en sletsappies in emers op ys ... genoeg ys! !! Steeds is
dit 43 grade en die dors is halstarrig. Nice van hulle.
Reën wolke
trek in die weste verby en sorg vir `n asemrowende sonsondergang. Die kameras
kliek.. kliek. Na `n uur kom die goeie nuus, ons kan weer opklim maar hulle kon
net die kroeg se lugreëling regkry. Ons ete word teen die spoed van witlig
bedien en met die vleis in een kies en die poeding in die ander word ons na die
sitkamer gejaag waar ons rustig kan herkou en kaas en beskuitjies geniet.
Die 2de sitting se ouens storm grom grom by ons
verby eetsaal toe. Een van die passasiers begin op `n spyskaart handtekeninge
en kontak detail bymekaar maak want hy is gatvol vir die hitte en soek sy geld
terug. Die fluitende tannie van 80/40 ondersteun sterk en nie lank nie toe is
die lys vol. Teen tienuur is die ander ouens darem klaar geëet en ook in die sitkamer. Dit raak
beknop en ons besluit om maar te gaan inkruip.
Die bed is netjies opgemaak en oopgevou en die
japon en pantoffels lê op die voete-ent. Op die tafel staan `n glasie sjerrie
en `n " pic n mix " chocholate met `n Shoz Meyl plakker - vir die ander
letters is daar nie plek nie. ’n lekker stort sal nou die regte ding wees. Ek
trek uit, druk eers my voete in die pantoffels en toe my arms deur die moue van
die japon ... daar hang ek - soos `n wit voël verskrikker span my arms
horisontaal langs my sye. Ek skrik vir die prentjie in die spieël en verloor amper
my selfbeeld. Die nes en adder is nou ook blou !!!! Die japon is 4 nommers te
klein en die pantoffels 2 te groot. Ek vat my badsakkie, draai die handoek om
my lyf en mik vir die stort aan die einde van die gang.
Die aan/uitrek hokkie is baie kompak maar die
stort groter. Ek kyk na die riffel plank op die vloer en verlang na my
plakkies. Ek stel die water reg en spring in – lekker vars en koel. Die trein
ruk en pluk en ek gryp na iets om aan vas te hou – my blou been in die een hoek
en die ander een in die teenoorgestelde hoek. Die seep loop in my oë ……… so
staan ek tot die geskommel ophou. Ons is seker by ‘n rooi lig of iets. Ek spoel gou af in afwagting vir die wegtrek
slag maar dit verloop seepglad. Handoek om die lyf skuur ek by twee mense verby
wat in die gang staan.
Ek gaan lê op my rug en haak my blou been oor die
wasbak/tafel. Die lakens ruik “provinsiale-wassery” vars en ek sien die koshuis
op Middelburg in my gedagtes. Ek skryf gou ‘n stukkie op die tablet met my arms
uitgestrek bo my kop om die ding vas te hou. – kan hom nader en verder hou
sonder die moeite van my bril. Die spore raas aanvanklik maar stelsematig raak
ek vaak. Skielik val iets van bo af op my gesig ! Ek klap gryp en spoeg maar my
arms werk nie. Die ding bly lê !!! Amper skrik ek die keer regtig my gat af
maar besef dis die tablet . My arms is deurskynend weens die gebrek aan bloed maar
ek skryf tog verder. Toe die tablet vir die 2 de keer op my gesig val besluit
ek ,,,, lets call it a day .. zzzzzzzzzzz.
Teen 3 uur word ek wakker en dit klink of ons
langs die spoor ry ! Hierdie trein jaag nie nou nie, hy maak soos kuier mense
wat gatvol gekuier is – hulle laat wiel!. Ons vlieg deur klomp klein stasies en
stop by een – Makwassie, sê die bord, Ok
nie meer ver nie en ek raak weer rustig.
Die groot
askies
Ontbyt is op die nommer met moer koffie en al !!. Almal is baie rustiger en meer ontspanne as
gisteraand. Dis lekker koel in die
sitkamer en ek en Giles gesels oor sy “Backpacker” trippie verder.
Die petisie man kom noem dat hy per selfoon sy
hart uitgestort het by die CEO van Shosholoza Meyl en hulle ontmoet ons by JHB
op die stasie. Ons bekruip JHB van ‘n heel onbekende kant af en besef eers ons
is daar toe ons op die stasie stilhou.
AANKONDIGING – Alle pasasiers moet asb na die Premier Class lounge gaan
voor hulle uitmekaar spat. 2 ouens wat
aan Laurel en Hardy herinner staan by die deur en vang dadelik vir Anthony en
van die ander personeel.
Ons kry nog water en grondboontjies of ‘n koppie tee as jy wil. Die lang ou begin
met ‘n baie flou grappie en effe lam verskoning, sy deel van die groot askies,
hulle is so jammer en die lys van wie almal verantwoordelik is klink so dik
soos die HAT te wees. Die kort ou sê sy sê en kondig trots aan hulle het ‘n
besigheids besluit geneem om almal met ‘n duisend rand kontant te vergoed vir
al die warmkry. Party gesigte helder op ander lyk verdwaas … die fluit tannie
en die petisie man staan dreigend nader en sy trek los ..” meneeg djy kan daai
1000 note in jouse ingat druk fluit sy, ons sal net tevriede wies met alles
terug of ‘n nuwe kaartjie Kaap toe op ‘n ander trein so ons dit wat ons voor
betaal het ken geniet !!!” Dis duidelik sy is “ge- coach” en die petisie man
skud sy kop instemmend. Nou ja, nou is
die kat tussen die hoenders en iemand moes op ‘n koffie tafel klim en die lot tot orde fluit. …. Die twee manne staan geskok na mekaar en
kyk …… toe kom dit, hulle het nie die mag om so te besluit nie maar bied steeds
die R1000 aan en sal dan almal per e-pos kontak oor die sukses van die versoek.
Ha ha ha … Lekker easy out maar wie weet, dalk ry
ons een van die dae verniet Kaap toe met die Shosholoza Meyl …..
Die einde
Na alles, dit was lekker, dit was opwindend, dit
was interessant en verrykend en voldoen beslis aan die kriteria van ‘n
belewenis om jou “kop skoon te maak” …….
Ps: Ek sal lieg as ek ontken dat daar steeds ‘n
nog vrae, nog gevoellens van hartseer en ongeloof is.
Nota - wonder wat het van die 2 koöperasie ooms
geword, want ek het hulle die hele reis nie weer gesien nie, dalk tog die
bakkie gevat of gevlieg of hulle was op verkeerde “stasie”
Sommer net ‘n paar stukkies oor my
ondervindinge oor ‘n paar dae van “kop-skoon-maak” Opgedra aan al die mense wat die reis met
groot belangstelling , bekommernis en ondersteuning gevolg het.
(***Hier en daar is ‘n Bietjie “kleur
“ ingebring net so dat julle nie in ‘n diep slaap verval nie.)
Comments
Post a Comment