Die geleentheid - Die " road trip “ met die ou Mercedes



Die Benz moet Kaap toe en dit lyk `na n lekker breek so voor Kersfees om my kop skoon te kry. Aanvanklik, die moontlikheid van passasiers maar later verflou die belangstelling tot net ek alleen.
Ek kry kwotasies vir terug vlieg - die goedkoopste is Kahlula. Steeds huiwer ek om die kaartjie te koop want daar is nog ‘n paar goed wat aan die Benz gedoen moet word. Sê nou net daar val ‘n mango in die drein ! Een oggend oor koffie vra Lewies “ wat van die trein ? dit kan mos net lekker wees” Die gedagte loop ‘n dag in my rond en ek google laatmiddag die “Shosholoza Meyl” – lyk na goeie waarde vir geld en die foto`s asook die website met die reis-program is baie profesioneel gedoen. Ek vul die kwotasie vorm in en stuur !!!! Die volgende oggend wonder ek oor die R2 500 wat dit gaan kos. Weer is dit koffie en Lewies – “Onthou man dit kos jou niks om daar te kom, Jaco staan in vir al die brandstof kostse en al wat jy moet doen is om dit te geniet”  Die kwotasie kom teen laatmiddag in maar vir 2 mense. Tyd is nou min, ek sal moet bel. 20 oproepe en 3 ure van “we are experiencing hi call volumes, your call is important … hanana P P…” kry ek onverwags iemand wat die foon antwoord ! Daar is nog plek vir 1 persoon en ek het ‘n verwysingsnr!

Cokes laat weet die kar is gediens en reg vir die rit en ek begin klere uitsoek.
… Terug kom, met die shosholoza meyl in premier klas! “Not to shabby”, dink ek en voel versigtig opgewonde. Môre oggend ry ek..

Dag 1
Vroeg oggend pak ek gou my tas, ja ek weet, ek kan nou maar net nie die vorige dag pak nie. Ek laai Lewies op in die broodblik (chana bussie) en ons ry Parys toe. Op die oprit staan sy - ***1973 Mercedes 450 sl in al haar glorie. Ek kon sweer ek sien die opgewondenheid in die lang ligte en `n glimlag op die sierrooster. Senuweeagtig staan ek nader en kyk of die lisensieskyfie geldig is. Die bande lyk goed en die ligte werk. Ek laai my tas in en dit lyk of die uitlaatpyp beweeg soos `n hond se stert! Ek groet al die bekommerde gesigte en draai die sleutel. Die masjien grom en ek kyk vir een of ander rede hoeveel kontant in my beursie is. Van plan verander is daar nou nie meer kans nie. Ons brul by die hek uit en waai vriendelik met n glimlag wat aan maagkrampe by `n baba herinner. Ek laat die bande, water en olie finaal nagaan by die Sasol garage, stel die horlosie .. 08h00 en die ritmeter na 0 Ek koop `n “chaw” koffie. (kort nog 2 dan kry ek een verniet !)  Die Mapstudio padkaart lê op die passasiers sitplek want GPS en koördinate is nie deel van hierdie trip nie ! Vredefort is eerste aan die beurt en daarna Kroonstad. Ons vleg gemaklik tussen die slaggate deur en alles loop voor die wind. Die masjien grom tevrede met die 110 km/uur en al die instrumente op die paneel lyk soos hulle moet. Ek is bly om te sien Kroonpark waar ons so baie gaan kamp het, ook die naweek toe pa dood is, is in baie goeie toestand. Mens moet weer hier in die warm water kom lê en wysbegeerte swot.

Bekommerde vriende sms " waar trek jy, is alles ok" so far so good , laat weet ek met my oë op die instrumente. Die driepuntster op die enjinkap bring `n effense gerustelling en ek gee vet. 110 – 120, niks begin raas of verloor nie. Ek skuif gemaklik en skakel die radio aan ...stilte... draai en druk die knoppe onder die Blaupunkt geskryf maar .. stilte. Ek soek na die luidspreker en kry net die drade maar geen luidspreker aan die punt nie. Ek draai maar die venster af en luister na "kinders van die wind" Baie GP motors vlieg by my verby en al die ooms met hoede groet my met duim in die lig. Hulle "like" hierdie kar! Die Vrystaat is groen en orals is bewyse van goeie reën. By die tolhek veroorsaak ons amper `n ongeluk soos mense in die ry, na ons kyk. Ek is seker die ouens ken my en ek groet hartlik terug maar die keer met `n glimlag wat sê "eat your hart out baby!" R39 well spent dink ek toe selfs die kinders in die sterroid karre vir my waai. Snaaks, ek ry konstant 110 km ph maar hulle kom 2 en soms 3 keer weer verby en ek kan nie onthou dat ek by hulle verby is nie!  Die druk op my blaas laat weet ek het vergeet om die pil met die ..sis op die einde, vanoggend oor te slaan en ons draai by die Star Stop in. Ah-ha hier staan al daai ouens wat soos `n yo-s yo ry, ook. Ek koop `n kou en drink ding, loop om die motor en skop teen die wiele, alles lyk nog ok ! Die glimlag op die rooster en opgewonde ligte is ook nog daar.;
Gou is ons oor die Oranje rivier en dit word warmer. Die driehoek ruite in die deur is die beste uitvinding ooit, jammer vandag se motors het dit nie meer nie. Ek onthou hoe pa sy sigaret so by die binnekant van die ruit gehou het en die as sommer uitgesuig is. Die wind waai by my hemp se knope in en die koel lug waai oor my bors....wat maak ek as n heuningby of een of ander steek-lus gogga nou hier ingesuig word ... ek verstel die venster effens en druk indedagte weer die donnerse knop onder die Blaupunkt. Bloem se eerste afrit gaan verby en baie mense sny gras op die middelman of verf die padaanwysings na Mangaung duideliker. (Anc se kies- konferensie mos die naweek) Ek soek my bril maar besluit dis minder moeite om eerder te bel en almal te laat weet hoe ek vorder. Die yo-yo manne jaag weer verby en toeter vir ons. Ek tel 3 "boskruipers" met kameras en dubbel soveel vragmotors die volgende 100 km. By die afrit na Kimberley dink ek weer aan die dae by kosmos gastehuis. Ek verlang na geselskap in die motor as ons so saam gery het en ook die lugreëling in die kar. Goeie tye ja .... Die aarde word platter die pad meer reguit en my voet so effe swaarder. Die meeste van die vragmotor bestuurders ry vir ons in die geel baan en ek toeter vriendelik, (ons het nie ‘n “Hazzard” knoppie nie) Almal ry met hoofligte aan maar ons het dit nie nodig nie, ons trek genoeg aandag! Winburg, ... Colesberg.

Colesberg starstop. 
"Waar is jy, hoe gaan dit - Lewies" ek bel weer almal met `n update. Dis nou 3 uur en te vroeg om oor te slaap. Wat maak ek in die dorpie tot môre oggend?  Ek bel my bespreekte gastehuis en kanselleer met die tong in die kies. Die antie is nie baie gelukkig nie en ek troos haar met al die yo-yo ouens wat nog oppad is. Ek gaan maar die 300 km na Beaufort-wes aanvat want die ou lady lyk nog lank nie moeg nie. Ek moet die tenk maar vol maak, dink ek gedagtig aan die verhoogde spoed.
Maak vol asb? vra ek - die pompniggie staan verdwaas met die pyp rond en ek staan nader " jinne meneer, waar gooi mens die petrol in?" ek loop om die Benz .... nee hel, ek weet nie. Ek onthou die agter die nommerplaat modelle maar dis ook nie daar nie. Met verdere inspeksie sien ek die duik in die hoek van die paneel langs die nommerplaat. "Nê !!! Sê sy, nou wat gooi ek in, met of sonner lood ? - die ligste een, die kar is swaargenoeg! Skree die joggie voor terwyl hy aan die kar se glimlag vroetel.  Meneer, waar gaan jy met die kar heen?  Houtbaai toe, sê ek. Gaan seker haar laaste lêplek wees, sê hy en was die voorruit. Ons lag lekker saam en met duime in die lug ry ons daar weg. Die son skuif agter die wolke uit en ek draai die ruite almal oop. Dis m..se winderig en my ore wapper maar dis hoe mens die  hitte verdryf, dink ek. Die hitte meter kruip effens hoër maar nog in die groen.
Dis warm met n laang f! !! En ek wonder of die mense sal sien as ek al my klere uittrek. Hier net oor die bult!  .. nog `n boskruiper met n kamera en padblokade. Gedagtig aan die storie wat ek sal moet vertel oor die sonder klere ding besluit ek daarteen. Die son skyn al meer van regs voor en ek dink aan die “boere-tan” wat ek nou kry. ... baie berge, bossies en die teerpad. Waar gaan ek bly!  Ek dink aan die naam van die gastekamers - Harry en Mariëta se fam. .. ek blaai deur die kreukels in my brein maar kry nie die naam nie. Miskien is dit die wind en die hitte. Ek val in een van die kreukels vas en skalel oor na outo pilot... Baie goeters in die gleuf !!!!! Jis is dit moontlik, hier voor my staan die teken." Youngs guest rooms" Beaufortwes. Wat nou `n koue bier of bed?  Miskien eers die slaap plek.

Slaapplek
Ek begin by Youngs... alles vol, ry by n hele rits swaar hekke met ewe swaar name en vermoedelik ewe swaar tariewe verby. Op linkerkant weggesteek tussen ou skakelhuisies wat smaakvol gerestoureer is sien ek The Treetops guesthouse. Die hek staan oop en ek ry in. Snaakse naam dink ek, want daar is nie `n boom in sig nie ! Daar sit n ou met `n lang bier sonder `n hemp op die stoep. In die deur by ontvangs staan Hanko.  Middag, ek hou van die motor, sê hy - die Benz smile moegerig en ek sweet! Het jy blyplek vir vanaand?  Nee jong alles is vol, watter model is sy? Iets klik in my brein, hier gaan die Benz my help ! Kom kyk binne, moet ek die dakkie laat afgaan, nooi ek -

Wow,  dis “awesome” sê hy en my Gaydar slaan in die rooi vas !!! “ Wat maak man nou vir slaapplek - wil jy `n draai ry ? vra ek in een sin met My beste hulpelose act en ek kyk hom vas in die oë! ... Kom saam en hy stap huis toe. In ontvangs begin hy op `n lys af bel..alles vol. Hy trap senuweagtig rond en sê: As jy nie omgee nie kan jy in die huis slaap, daar is `n ekstra kamer maar ons sal die badkamer moet deel.... ek slaap oor.
Die kamer is ruim en die decor effe oordrewe, nes ek verwag het. Ek sit my goed neer en onthou oppad in het ek die Spur gesien. Bier .. lank en yskoud !! Hanko is besig met gaste en ek waai net toe ek straat af ry na die Spur “oase” .

Die yskoue Castle draft verdwyn amper in een sluk in my keel af. " Yinne ma meneer is lekke dors " is nie, die ding lek man! Bring asb vir my n ander een ..tanne .. nie twee in die middel nie, maar twee met `n " gap" tussenin. So bel ek almal en vertel dat ek veilig is. Skielik staan hier `n ou by my " is dit jou Benz hier buite? ja oppad Houtbaai toe met haar. My pa het ook een en ......... ek drink my 2de bier meer rustig terwyl die ou se lippe beweeg .. ek skud so nou en dan my kop.  Terug by die kamer word daar lekker gekuier let die huis mense oor alles en nog wat en teen elf uur is my gô uit. Ek loer na die parkeerterrein en sien die Benz is rustig. Die dag se geskud in die motor jaag my badkamer toe.
Baie David beeldjies met, “ag shame,” ipv 8 duim. Teen die muur hang `n groot prent van `n fris geboude boerseun sonder klere en al die duime wat die Dawid’s vermis. Ek tel die toilet se deksel op, die water is `n diep blou.
So sit ek in ‘n bier beswyming en dink oor die dag - wonder hoe gaan dit op Thwane, hoop die ape pla nie teveel in die kampe nie! !! Ape! !! Skielik sien ek die blou-aap mannetjie van agter - blou boude! !! Ek sit op `n pot vol blou verf,  sê nou net. !  Ek vlieg op, rol `n bol toiletpapier om my hand en gooi dit in die water,  lekker lag ek vir myself, dink net wat sou gebeur as ek vanaand n kuiergas kry. Ek stort vinnig en maak seker ek was oral waar die spat van die blouwater dalk sou bykom. Ek gaan lê op die wit bed,lugreëling aan - heerlik koel - die twee “drafts” lê swaar op my ooglede...zzzzz.


Dag 2
Ontbyt is lekker en Hanko is op sy pos met n glinstering in sy oë en fladder met ‘n “knyp stappie” (mince) tussen die tafels deur.. goeie more ! lekker geslaap? Loer hy na my….ek krap in my brein rond op soek na my moontlikke betrokkenheid vir die vrolikheid.
Die Benz word wakker gemaak met koue water en n chammy op die ruit. Die tuin jong doen dit vir al die gaste voor hulle vertrek. My bagasie word uitgedra en ek word hartik gegroet. Kom jy weer hier verby oppad terug?  Op die Shoshaloza Meyl, ja ek hoor ons stop hier. O ja, ek ken die roetine. 

By die motorhawe laat ek alles nagaan en maak vol "- waar sit die ding se sluk? " hier gaat ons weer.. die Benz lag en ek beduie.
Die Karoo is warmer as gister en die berge meer. ‘n Los buitjie reën val naby Matjiesfontein en bring ‘n bietjie lafenis.  Die ruitveêrs maak die paar druppels van buite af na binne bymekaar en herinner aan ‘n hotentotsgod gogga wat ‘n vlieg vang. Die res van die reis deur die Karoo verloop sonder insident en is net so vervelig soos die landskap. By Driesusters jaag die …sis pil my –alweer vergeet, en ek draai in. Baie karre, bakkies, kinders en die eetplekke is stampvol ! Ek kyk nog rond vir parkeerplek toe ‘n joggie my nooi om reg voor die winkel op `n rooi lyn te parkeer ! Gaan jy die boete betaal ?  “nee laanie, ek sal kyk ! dit lyk hoeka soos ‘n “arrive alive exhibition car die “ ek storm die badkamer,  blaas af en koop ‘n Energade. Deur die winkel venster sien ek twee ouens in druk gesprek langs die Merc. Hulle beduie en loer binne in – loop om en staan nog nader, die gamat /joggie raak iets kwyt en hulle kyk na mekaar - miskien moet ek ‘n rukkie wag dat hulle klaar maak.  Nee, die Kaap is nog ‘n ent. Ek hou al my groceries mooi bymekaar sodat ek net kan klim en ry ! So in die aanloop na die motor toe flip ek ‘n 5 rand stuk vir die joggie en spring in, die enjin vat dadelik en grasieues ry ons onder die ouens se oë uit in die rigting van Worcester. Nie te lank nie en die Hex rivier- vallei lê voor my uitgestrek. Bly darem asemrowend en ek geniet elke oomblik daarvan. Die Du Toitskloof tonnel sluk ons vir 14 km in en dit is asof mens ‘n ander wêreld inry aan die ander kant.

Afskeid
Teen 2 uur is ek in die Kaap en en kry Jaco by Retanga Junction. Die skraal seun met sy krulkop is duidelik bly om ons te sien "het als darem goed gegaan?" ja, soos `n horlosie, wil jy haar nie dalk vekoop nie ? miskien, moet eers paar goed regmaak. My lift daag op en ek groet die Benz met gemengde gevoelens. Dit was lekker en `n voorreg en ek wonder of ons weer sal ontmoet. Sy loer vir my so op die pad uit die parkering en die "stert" swaai.

Comments

Popular posts from this blog

Die nadraai van die Kaap kuier

Voorwoord

Behandeling sonder Mediesefonds !