Die groot val
Die paar luilekker dae in die Kaap gaan gou verby. Twee dae voor ek
moet terug reis, verander dinge drasties. In my slaap broekie – die “voel-vry “
een met die weg knope en my “jaka-matrat-plakkies” tussen my tone stap ek die
trap voor die eetsaal by die gastehuis af tuin toe met ‘n vroeë (6h00) koppie
moerkoffie (altyd “on-tap”)! Ek wil die
son oor die berge sien opkom ! Die dag breek rooi oor die Bainskloof en toe …… tussen die derde en die vierde trap
iewers verloor my plakkies “grip” op die nat oppervlak en asof in “slow-motion”
sien ek hoe die berge skud, die glasdeur ratel. Voëls skarrel weg en dis
skielik “guyfox” . Duisende sterretjies ry saam met my tot by die onderste trap
! My koffie en my waardigheid lê iewers op die tweede of derde trap en ek neem
vinnig voorraad van al die plekke wat mense van my ouderdom nie nou wil breek
nie. Die verslag lewer, behalwe die pyn in my lies, geen noemenswaardige nuus
op nie en toe … ja daai ding wat almal doen as hulle val – jy kyk rond of
iemand jou nie gesien het nie !! Die harde gepiep van ‘n budgie in my kop
bedaar en ek hoor ‘n gegiggel agter die struike by die swembad. Twee seuntjies
loer tussen die blare deur en ek sê hard “julle moet nie vir ‘n grootmens lag
nie ! julle sal swart word !” hulle stap nader terwyl ek nog lê-sit op die onderste trap. Is
oom O K ? vrae hulle beleefd en dis duidelik dat hulle nie hul lag kan hou nie,
Die een staar na my onderlyf en ek “scan” gou weer die plekke…. iewers is daar
‘n trek – ja waaragtig die “een oog adder” hang soos ‘n ontvriesde stuk
boerewors by die opening in my broek uit …. Ek gryp my waardigheid op die
tweede trap, druk die uitstalling terug waar dit hoort en loop kaalvoet die
trap op terug kamer toe.
Die res van die dag is my lies effe styf maar niks meer nie. Ek
was f-reeslik gelukkig ! hoor ek myself sê, ek kon nou in die hospital gelê het
! Die middag ry ek na die
naaste see toe (Gordonsbaai)
Ek stap op die sagte nat
sand en my gedagtes dwaal na die tyd op Knysna
toe ek laas daar was. Op die stoep
van ‘n straat kafee kry ek ‘n tafel en drink ‘n glasie wyn op die ondergaande
son.
Oppad na die plek waarheen mens niemand kan stuur nie besef ek my gewone stap ritme het ‘n
verandering – iets soos iemand wat ‘n wortel iewers vasknyp ! My bobeen is effe
geswel en rooi maar niks ernstig nie. Terug by die huis kuier almal oor die
dinge van die dag en ek gaan kruip in met 2 Panado’s agter die blad. Deur die nag raak my been ongemaklik en begin
my wakker hou. Ek waggel die kombuis teen 7 uur in opsoek na koffie. “Aarde
mens, kyk hoe lyk jou been !” ‘n blou skynsel begin van my lies af na
my knie kruip. B stop my in die bus en ons jaag na Dr Giepie toe in die
Paarl. Ek vertel my storie en met sy bril op sy neus loer en bevoel Giepie my
lies …. asook “alles” in die omgewing, met belangstelling – die man lyk my is
baie deeglik ! Na vyf minute …. nêrens iets af of verlore nie, net ‘n spier
seergemaak is die uitslag – pilletjies en ‘n Voltaren inspuiting sal die ding
doen ! Giepie trek die spuit vol en stap
nader.. wag ek gebruik Wafrin sê ek .. O Jis! amper maak ek droog ! sê hy. Net
nou steek ek ‘n aar raak en dan is ons in die moeilikheid ! net pille dan maar.
Ek trek my broek aan net toe Iemand aan die deur klop. ‘n Beeld van ‘n man stap
in , “dis my seun Arnold, hy help hier uit vir die dag” …. wat van ‘n tweede
opinie flits dit deur my gedagtes. Teleurgesteld en ook verlig ry ons terug.
Almal het groot pret met my stywe been storie en die storie word
ingekleur met “Hy het sy Gat af geval” “ Hys been-af oor die Dr” “ ‘n stuk van die plek gekoop” “ koffie wat
te sterk is ens, ens.
Die twee seuns en hulle ouers het toe ons na Giepie toe was
uitgeboek ……. ek sal wat wou gee om hulle weergawe van die storie te hoor !
Comments
Post a Comment